fbpx

Hoezit Samelewing

ABOUT HOEZIT

Ek het nog altyd geglo as jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Met hierdie mentaliteit, het my drome soms mense om my baie gespanne laat voel, maar sou definitief ander dromers, soos ek, opgewonde maak. In 2009, kry ek ‘n droom – ‘n kaart van Suid-Afrika, met sy miljoene liggies. Die Here maak dit toe aan my duidelik dat ek by daardie “liggies” gaan uitkom. My eerste gedagte was hardloop. Hierdie is die verkeerde droom vir die verkeerde persoon. Nietemin, het hierdie droom op my begin groei en het ek hierdie droom met elke sel in my liggaam begin najaag. Die hoe, waar en wanneer was ‘n bysaak.

Ek besef toe die Here het my geseën met ‘n talent waar ek weet hoe om noot te hou en so het die droom begin waar ek by feeste en konserte begin optree het. Ek het selfs my lyf seremoniemeester gehou. Na ‘n tyd het ek ook besef dat ek ‘n sterk begeerte in my hart het om met kinders te werk. Ek begin toe ‘n kinderproduksie genaamd, Franna. Franna gaan oor ‘n 12-jarige seuntjie wat op reis is, waar hy leer hoe om hierdie ding wat ons “lewe” noem, te hanteer – op ‘n lekker en grappige manier, natuurlik.

Nou, as jy my ken, sal jy weet, dat ek nog altyd ‘n lus en passie vir die lewe gehad het en nog altyd ‘n storie op ‘n humoristiese manier kom vertel. Tydens Lockdown moes alle vertonings en produksies stop. My eerste gedagte was, ”Hoe gaan ek nou by die “liggies” uitkom?” 

Ek kry toe ‘n Ah-ha oomblik waar ek besef, ek het ‘n selfoon, ek het internet, en ek het ‘n kommen persoonlikheid. Net daar, is Hoezit Samelewing gebore. Ek het besef, die droom het dieselfde gebly, die “hoe” het net verander.Ek was onseker oor hoe die samelewing die lawwe video’s sou ontvang, en het eers net een video, eenkeer ‘n week, op my persoonlike Facebook blad gelaai. Voordat ek my oë kon uitveë het die video’s momentum opgetel, en besluit ek toe om die Hoezit Samelewing blad te skep. Tot my verbassing het die blad in minder as ‘n jaar tot meer as dertigduisend “followers” gegoei. Tiktok het ook vlam gevat met ongeveer dertigduisend “followers”. Daar is selfs ‘n paar op Instagram.

Buiten vir Hoezit, doen ek deesdae ook optredes, motiverings praatjies, bemarking en opleidingsgeleenthede regoor die land. Daar is nog soveel opwindende projekte oppad. Soos hulle sê, “Watch this space”. Ek is regtig net met my hele wese opgewonde om te sien waarheen hierdie droom ontwikkel.